Saturday 24 October 2015

Beesvleiskasserol met Kluitjies


BREDIE:
1,2 kg beesvleisblokkies
Sout en vars gemaalde swartpeper
45 ml olyfolie
1 groot ui, grof gekap
250 ml rooiwyn
1 liter goeie beesvleisaftreksel
2 x 410 g blikke gekapte tamatie
500 g groenbone, skoongemaak en gehalveer
1 x 250 g houer sampioene, grof gekap
250 ml room
Paar takkies vars roosmaryn

KLUITJIES:
310 ml bruismeel
Knippie sout
100 g botter
15 ml gekapte roosmarynblaartjies
180 ml karringmelk

Geur vleis met sout en peper en braai in ’n swaarboompot in warm olie tot bruin. Voeg die ui by en braai tot sag. Voeg die rooiwyn, beesvleisaftreksel en tamatie by en verhit tot kookpunt. Bedek en laat prut vir ongeveer 1½-2 uur, of tot vleis sag is.

Voeg bone en sampioene by en prut verder tot groente gaar is. Terwyl groente prut, meng meel en sout in ’n bak en vryf botter daarby in. Voeg roosmaryn by en sny karringmelk met ’n mes in (soos vir skondeeg) tot klam krummels vorm. Druk liggies bymekaar en skep eetlepelsvol van die deeg op die borrelende bredie.

Bedek en laat prut liggies vir 10-15 minute, tot deurgaar. Lewer ses porsies.


Roosmaryn is 'n goeie krui om saam met beesvleis te gebruik – verál in ’n bredie.

As jy nog nie kluitjies gemaak het nie – die deeg moet lekker sag wees (’n voedselverwerker maak dit maklik), weerstaan tog die versoeking om die deksel op te lig terwyl die kluitjies gaar word. Dis die konstante stoom wat hulle lig laat uitrys.

As jy die pot heeltyd oop- en toemaak, kan die kluitjies toeslaan en sal dit ’n digte, swaar tekstuur hê. As jy twyfel of die kluitjies gaar is, druk ’n sosatiestokkie in die grootste een – as dit skoon uitkom, is
die kluitjies reg.

Bron: Arina du Plessis
Plasing; Henriette Wessels / WATERTAND RESEPTE VIR OUD EN JONK

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...